Click here to see these pages in English

EMD SD7 B&O 1829, 'n Atlasmodel deur Kato.
Met die uitleg uiteindelik in 'n naastenby aanskoulike toestand, is dit tyd om vir 'n verandering so 'n paar treine daarop aan die loop te kry.

My Chessie System is uitsluitlik 'n vragspoorlyn, en jy sal verniet hier soek na passassierstreine om vragoperasies te ontwrig. Aangesien kaboese nog steeds hier op die Kaapse afdeling van die Chessie gebruik word, kan die paar mense wat wel nodig het om per trein iewers heen te reis, darem nog 'n saamrygeleentheid agter in die kaboes kry. Soos gewoonlik is die groot stasie by Plainsville tans nogal bedrywig, met beswaarlik 'n onbesette spoorlyn. Ek het hierdie tweedehandse voetbrug op 'n dag by my plaaslike treinwinkel ontdek en was nogal in my noppies toe ek vind dat dit presies pas op die platforms wat ek reeds in 1993 gebou het.

SD40 C&O 7557 lei haar trein op die koppie in die verbygaansylyn in, waar haar susterlokomotief, C&O 7551, al lankal staan en luier in afwagting op die ontmoeting.

Hier sit 'n tenkwatrein agter 'n GP38 in die sylyn op die koppie en wag terwyl drie lokomotiewe, gelei deur 'n SD50, stoei om 'n trein silindriese onderlossers die bult uit te sleep.

Vroegoggend, en die verkeer na en van Hillville begin toeneem.

Vroegoggendsonskyn verlig die ou yshuis en die nuwe kerk in Hillville, terwyl die ou kerk en die huise oorkant die straat nog in die skaduwee is.

'n Werker inspekteer die groot dieseltenks langs die lokowerf rondom die draaitafel. Te oordeel aan die aantal trokke, houers en sleepwaens wat agter die tenks rondom die fabriek geparkeer staan, lyk dit asof dit goed gaan met die besigheid.

Hier is die besigste deel van die spoorweg, ideaal vir treinentoesiaste, waar tot soveel as vier treine soms tegelyk verbydreun.

Die lokowerf rondom die draaitafel is maar omtrent halfvol, dus behoort daar 'n hele paar treine aan die loop te wees.

Dit lyk nie asof daar veel aan die gang is by die vragdepot by Plainsville se tweede werf nie, met net een sleepwa by die laaidok.
En dis genoeg vir eers. Loer so af en toe weer in, want ek sal nog byvoeg soos die uitleg ontwikkel. Sien julle weer, ek gaan nou eers so 'n paar treine ry.....
Na die ander Chessieblaaie:
Na die res van my webwerf:
Die volgende blaaie bevat dekodeerderinstalleringsgidse vir 'n paar N-skaal diesellokomotiewe:
En die volgende blaaie bevat gidse om 'n paar N-skaal diesellokomotiewe te diens of om hulle werkverrigting te verbeter:
|
|||||||
|
|||||||
Volgens die Webteller is jy
besoeker nommer aan hierdie blaaie sedert 23 Mei 2002. As jy
kommentaar wil lewer op enigiets wat jy hier sien, of dalk iets
wil voorstel, pos asseblief 'n ebriefie.
![]()
Geskep op 12 September 2003. Laas op 2 Oktober 2003 opgedateer.