Click here to see these pages in English

EMD GP38 C&O 3856, 'n Atlasmodel, en die resultaat van my eerste poging om self 'n onversierde lokomotief te verf.
My koppie vir die lus en die basis vir die spore wat op en af na en van die koppie moes loop, is alles uit een groot vel 8 millimeter laaghout gesny. Nadat die landskapsversiering van die hele uitleg rondom die sentrale koppie "voltooi" is (dis nooit regtig heeltemal klaar nie) en die nou reeds geballaste spore weer aan 'n lang tyd van intensiewe toetsing onderwerp is, het dit tyd geword om ernstige aandag te gee aan die koppie se laaghoutvlakte-bokant. Teen daardie tyd het dit al ontaard in 'n misbruikte handige staanplek vir allerlei gemors soos gereedskap, asbakkies, koffiebekers, wynglase en wat-nog-alles, en dit was oor die algemeen 'n onaanskoulike gemors. Klink dit bekend?
My eintlike probleem was dat ek nie regtig geweet het wat om te doen om die koppie af te rond nie, en dit het so 'n bietjie dinkwerk geverg, wat die ware rede is waarom dit tot laaste laat staan is. Aangesien deel van die lus bo-op die koppie 'n verbygaansylyn ingesluit het, moes daar die een of ander soort van infrastruktuur ook bykom. En omdat daar ten minste 'n gebou of twee sou moes wees, moes daar dan ook 'n manier wees vir mense om daar te kom, anders as per trein of helikopter, en dus was 'n pad ook nodig. Met die enigste beskikbare plek in die middel van 'n lus en met al die spore en werwe reg rondom die koppie op die laer vlak, was ek 'n ruk lank in 'n hoek vas met geen manier wat ek kon sien om 'n pad daar af te maak nie. Op die ou end het ek besluit dat die enigste praktiese manier om 'n pad tot daar te kry, deur 'n tonnel sou moes wees, en die maklikste manier om 'n tonnel daar te hê, was om 'n koppie by te kry waarin die tonnel kon verdwyn. Die anderkant van die tonnel is maklik om te verduidelik - dis iewers heeltemal weg van die uitleg af!
Dag Een. Ek het begin deur blokke "styrofoam" met houtlym op die laaghoutvlakte vas te plak en 'n dag lank te los vir die lym om te set.

Dag Twee. Toe die "styrofoam" stewig vas was, het ek dit rofweg in 'n koppie-vorm gesny. Die maklikste en mins morsige manier om "styrofoam" te sny, is met 'n broodmes, maar dis steeds 'n goeie idee om 'n stofsuier byderhand te hê om die peslike klein wit balletjies op te suig voordat hulle aan alles gaan vassit. Hulle raak maklik staties gelaai en foeter by al die plekke in waar jy hulle die minste wil hê. Ek het ook 'n tonnel uitgesny en 'n ingang ingevoeg. 'n Tonnelingang vir 'n dubbel-treinspoor was presies die regte grootte vir 'n padtonnel.

Die volgende taak was om 'n paar vooraf gegote klipvorms by te sit. Hulle is in krytsteen (cretestone) gegiet en ek het nog krytsteenpasta gebruik om hulle teen die "styrofoam"-koppie vas te plak. Waar nodig, is die broodmes weer ingespan om die klipgietsels mooi te laat inpas.

En toe het die hele "styrofoam"-koppie 'n lagie krytsteen oorgekry. Ek tik die klam krytsteen met 'n naelborseltjie (daardie groene op die foto) om dit 'n mooi growwe tekstuur te gee en om die vinger-smeermerke te verwyder. Dit set betreklik vinnig, tensy mens oorboord gegaan het met die water tydens die aanmaakproses, en dis dieselfde as om met gips te werk. Soos jy kan sien, kom 'n bietjie rooiwyn goed te pas solank mens koppies maak.

Daarna het ek fyngebreekte krytsteen - oorskiet van vorige projekte - bygevoeg om 'n rotsstorting voor te stel onder die nie-regtig-so-voorafbeplande klipoorhang teen die hang van die koppie.

Eindelik, terwyl die krytsteen nog klam was, het ek 'n bietjie baksteenpoeier oorgestrooi om 'n bietjie ander kleur as net die sanderige geel by te kry. (Baksteenpoeier word gemaak deur gate in 'n baksteen te boor met 'n hamerboor.....) Om seker te maak dat die poeier goed vassit, het ek dit net liggies natgespuit met sproeimis - te veel water sal loopmerke veroorsaak in die klam krytsteen. En hier eindig dag twee se werk.

Dag Drie. Ek het eers 'n liberale hoeveelheid swart kleursel oor al die klipgietsels aangewend. Die kleursel word aangemaak deur swart verfkleursel en 'n tjorts watergebaseerde houtlym in water te meng, en dit word met 'n verfkwas aangewend.

Daarna, omtrent 'n halfuur later, het ek rooi kleursel op al die klipgietsels geverf, bo-oor die swart.

Daarna het ek die koppie met verdunde houtlym natgeverf (een deel lym in drie dele water - dieselfde mengsel as wat ek vir spoorballaswerk gebruik) en 'n sponsbossie- en koffiemoermengsel oorgesprinkel. En dit was die einde van dag drie se werk, met die koppie klaar behalwe vir nog bossies en bome, wat so terloops nou byna 'n jaar later nog nie aangeplant is nie!

Dae Vier tot Ses. Die volgende drie dae is in beslag geneem deur die bou van 'n klein dorpie met 'n stasie en 'n yshuis en ysplatforms, en nog 'n "Realroad"-pad wat 'n draai maak in die tonnel in.

Dag Sewe. En die laaste dag is spandeer aan afrondingswerk, soos om al die laaste oorblyfsels van die laaghoutvlakte onder 'n lagie krytsteen weg te steek en liggies nat te spuit sodat dit kan set. Nou wag ek vir die klein N-skaal mensies wat by die huise en woonstelle ingetrek het om iets aan hulle kaal tuine te doen, maar aangesien byna 'n jaar reeds verby is en die klomp lui bliksems nog nie 'n vinger verroer het nie, begin dit lyk asof ek dit maar weer self sal moet doen as ek dit ooit gedoen wil hê!
Na die ander Chessieblaaie:
Na die res van my webwerf:
Die volgende blaaie bevat dekodeerderinstalleringsgidse vir 'n paar N-skaal diesellokomotiewe:
En die volgende blaaie bevat gidse om 'n paar N-skaal diesellokomotiewe te diens of om hulle werkverrigting te verbeter:
|
|||||||
|
|||||||
Volgens die Webteller is jy
besoeker nommer aan hierdie blaaie sedert 23 Mei 2002. As jy
kommentaar wil lewer op enigiets wat jy hier sien, of dalk iets
wil voorstel, pos asseblief 'n ebriefie.
![]()
Geskep op 11 September 2003. Laas op 2 Oktober 2003 opgedateer.