DIE CHESSIE SYSTEM IN N-SKAAL

Click here to see these pages in English


PADWERKE

EMD SD40 C&O 7557, 'n Kato-model.


Die bou van 'n uitleg duur nogal 'n rukkie, maar die hoofdoel is pal om uiteindelik in staat te wees om treine te kan laat loop. Sodra die spore dus gelê is, moet dit goed getoets word deur 'n slag treine daarop te laat loop in plaas van net te bou en te bou aan die uitleg. Na sowat 'n jaar of langer se intensiewe toetsery op die laaghoutvlaktes, afhangend van die graad van uitstelsiekte waaraan mens ly, kan die landskapversieringsproses begin.

Rangeerwerfspore het gewoonlik die voorkoms van kaal spore in die grond met beswaarlik enige ballasklip of slepers sigbaar. In 'n poging om daardie effek te skep, het ek krytsteen (cretestone) gebruik, 'n sandkleurige gipsagtige materiaal wat gebruik word om plafonne af te werk. (Ons is gelukkig hier in die Kaap, waar krytsteen gelerig is - bo in die noorde is dit spierwit soos gips.) Ek gebruik dit ook vir klipgietsels, en dit kan dan gekleur word om die verlangde klipkleure te kry. Soos met gips, is dit morsig om met die nat pasta tussen spore te werk, en as dit eers geset en verhard het, is dit harde werk om die goed uit plekke te verwyder waar dit nie moes gewees het nie. Ek het dus liewer die droë poeier gestrooi en dit met 'n verfkwas gevorm, en in die proses sommer 'n pad ook gemaak. Toe alles volgens my smaak in plek was, het ek dit natgemaak met 'n fyn sproeimis. Nadat dit gestol het, het dit baie min moeite geverg om dit af te werk. Al wat ek moes doen, was om die pad glad te skuur, en om 'n bietjie swart kleursel tussen die spore aan te wend ten einde die effek te kry van werfspore waar met verloop van tyd diesel en olie en steenkool gemors is.

Hier is die resultaat. Die sponsbossies tussen die spore is nog 'n bietjie aan die digte kant, maar dit sal mettertyd uitgedun word soos wat die spore van tyd tot tyd skoongemaak en gestofsuig word. Hier was die een oorblywende taak nou om uiteindelik Ted Anderson se "Realroad" op die proef te stel en die grondpad in 'n teerpad te verander. Om te begin, het ek 'n papierpatroon van die grondpad gemaak wat presies tussen die spore en geboue ingepas het.

Die papierpatroon word dan gebruik om die buitelyne van die pad met 'n merkpen op plastiek af te teken. Die "Realroad"-pasta word dan soos botter op brood op die plastiek gesmeer, en met 'n kredietkaart glad afgewerk sodat die kante tot sowat 10 millimeter oor die buitelyne van die pad op die plastiek strek. Dit word dan oornag so gelaat om droog te word.

As dit eers droog is, lyk die "Realroad" nogal baie na die Marley-teëls van weleer, en word die plastiek eenvoudig van die pad afgetrek. Die merkpen se strepe sal dan na die onderkant van die gestolde "Realroad" oorgeplaas wees, en dis dan maklik om eenvoudig die pad al langs die buitelyne uit te knip. Dis egter 'n goeie idee om dit eers met die papierpatroon te vergelyk voordat dit uitgeknip word, sodat toegelaat kan word vir 'n mate van krimp tydens die droogwordproses.

Hier is die pasgemaakte pad. Proefpas dit op die uitleg voordat met die padstrepe begin word.

Die strepe word gedoen deur kleefband op die pad te plak en dan die strepe met wit en geel merkpenne tussen die kleefbandstroke te trek. (Die merkpenne en die kleefband is deel van die "Realroad"-pakket.)

Ek het hier selfs 'n klompie parkeerplekke vir veertigvoetsleepwaens afgemerk.

Al wat nog oorgebly het, was om die pad op sy plek te gaan vasplak. Daarvoor het ek wit houtlym gebruik.

En hier is die eindresultaat. As jy meer wil uitvind van "Realroad", gaan loer in by Ted Anderson se webwerf.


INDEKS

Na die ander Chessieblaaie:

Inleiding
My Modeltreinuitleg
'n Eenweekberg
Eindelik Loop Hulle

Na die res van my webwerf:

Voorblad
Akkommodasie (Sea-Spray Selfsorg Vakansiewoonstel)
Die Kgalagadi-Oorgrenspark
Die Storie van 'n Kalahari-Telefoonpaal
Die Langkloof-Appeltrein
Aangename Kennis
Skakels na Ander Webwerwe

Die volgende blaaie bevat dekodeerderinstalleringsgidse vir 'n paar N-skaal diesellokomotiewe:

Atlas DCC-gereed Lokomotiewe
Atlas EMD GP30
Atlas EMD GP40
Bachmann GE C40-8 & C40-8W
Kato EMD SD40
Kato GE U30C
Life-Like EMD GP38-2
Life-Like EMD SD7 & SD9
Life-Like EMD SW9 & SW1200

En die volgende blaaie bevat gidse om 'n paar N-skaal diesellokomotiewe te diens of om hulle werkverrigting te verbeter:

Atlas & Kato Diesel Wielsteldiens
Life-Like SD7 & SD9 Kragtoevoer
Model Railroading with DCC
[ Sluit Aan | Ringsentrum | Lukraak | << Vorige | Volgende >> ]
Simply Trains Webring
[ Sluit Aan | Ringsentrum | Lukraak | << Vorige | Volgende >> ]

Volgens die Webteller is jy besoeker nommer aan hierdie blaaie sedert 23 Mei 2002. As jy kommentaar wil lewer op enigiets wat jy hier sien, of dalk iets wil voorstel, pos asseblief 'n ebriefie.


Geskep op 11 September 2003. Laas op 2 Oktober 2003 opgedateer.