Click here to see these pages in English

EMD SW9 B&O 5081, 'n Life-Like-model.
Een van die dinge wat 'n onvermydelike deel uitmaak van enige militêre loopbaan is gereelde verplasings. Gedurende my 32 jaar in die Suid-Afrikaanse Lugmag is ek gemiddeld elke drie jaar verplaas. Al hierdie skuiwe het darem nie noodwendig ook 'n trekkery afgegee nie, aangesien 'n aantal van hulle tussen eenhede in die Pretoria-area was. Maar gedurende daardie 32 jaar was ek ook op basisse regoor die land gestasioneer. Toe ek dus begin bou het aan 'n uitleg was die eerste vereiste dat dit verskuifbaar moes wees.
My bestaande uitleg is gebou toe ek nog in militêre kwartiere in Voortrekkerhoogte, buite Pretoria, gewoon het. Toe ek met my aftrede in 1999 terug Kaapstad toe verhuis het, is die uitleg eerste in die meubeltrok gelaai, waarna 'n vloer daaroor gebou is sodat die res van my meubels bo-op gepak kon word. Dit bestaan uit 'n staal-onderstel wat ongeveer so groot soos 'n karavaan s'n is (4 by 1.6 meter), met 'n reling van vierkantpyp om iets te hê om op te leun eerder as op die uitleg self, sowel as iets om die uitleg aan op te hang. Die dek bestaan uit tien 20 mm laaghoutblokke wat hul bestaan as palette vir Rank Xerox fotostaatmasjiene begin het. Die hele ding hang aan vier staalkabels en word met 'n klein boot-wenas tot teen die garage se plafon opgehys, sodat die motor nie uit sy eie slaaplek verban hoef te word om my treine te kan akkommodeer nie. Die beste van alles is dat die treine op die uitleg kan bly staan wanneer dit teen die dak gebêre word.

Hier is die uitleg opgelig. Ek is 5' 8½" lank en kan amper regop daaronder loop, behalwe onder die kassie wat links onder die uitleg sigbaar is en wat eintlik 'n klein rakkie is vir die DCC bevelstasie en die kragbron. Die pare 20 liter oliedromme dien as pote vir die uitleg wanneer dit laat sak word. Aangesien mens reg rondom die uitleg kan beweeg, is daar nie werklik 'n behoefte aan 'n landskap-agtergrond nie, maar ek het wel die treingedeelte van die garage heeltemal in hemelblou geverf. Ek het die relings met dieselfde blou geverf om hulle minder opsigtelik op fotos te maak.

Hier is 'n foto van die wenas met die uitleg opgehys. 'n Deel van die busdrade wat reg rondom die uitleg se onderkant loop en van waar krag ongeveer elke 60 cm na al die spore gevoer word, is op die foto sigbaar. Dit lyk asof die feit dat ek alles dieselfde kleur blou geverf het nogal help om goed soos die wenas se ankerstut minder opsigtelik te maak op fotos.

En hier is dit laat sak tot op die oliedrompote. Ek het ringe rondom die dromme op die vloer geverf om dit makliker te maak om die dromme korrek te plaas voordat die uitleg laat sak word.

Hierdie foto wys die hele uitleg. In April 2000 het ek 'n groot deel daarvan gelig en al die spore oorgelê, behalwe die rangeerwerwe en die spore aan die linkerkant, ten einde van 'n paar skerp draaie ontslae te raak. Al my wissels werk met die wysvinger en almal kan maklik van een kant van die uitleg (links op die foto) bygekom word. Die spoorplan is heeltemal vryskut en dit probeer nie enige werklike plek uitbeeld nie, en die uitleg bestaan basies uit een enkellyn wat vier keer rondom die uitleg gaan, en twee keer oor die koppie en om die lus, voordat dit weer by die beginpunt uitkom. Dit bied my 'n hooflyn wat byna sewe skaalmyle lank is, en met DCC is dit maklik om heel op my eie vier lang treine gelyktydig te laat loop. Daar is altesaam ses verbygaan-sylyne van verskillende lengtes, twee waarvan drie lyne het, en twee rangeerwerwe. Ek beplan ook om nog eendag N-Trak- of BeNd-Trak-tipe modules by die uitleg aan te las - die lyne om met die modules te koppel is regs onder net buite die foto. Ek het waarskynlik hopeloos te veel spoor gelê - soos jy kan sien, het ek elke stukkie beskikbare spasie benut om soveel spoor as moontlik gelê te kry, wat nie 'n vreeslike klomp plek oorgelaat het vir strukture en landskapwerk nie. Wat my eintlik goed pas, want ek sal liewer die treine laat loop as om landskappe te bou!

Dis geen Tehachapi nie, maar dis steeds 'n lus. Die middelgedeelte van die uitleg is 'n koppie, en die hooflyn gaan twee keer rondom en oor die koppie. Op een van hierdie twee lyne is ook 'n verbygaan-sylyn wat maklik lang treine van ongeveer dertig vyftigvoettrokke kan akkommodeer. Ek het probeer om die spoorradius so wyd moontlik te hou. Die minimumradius op die heuwel, links op die foto, is omtrent 13", terwyl die res van die draaie meestal 18" of groter is.

Die draaitafel is 'n hoë-tegnologie wysvinger-aangedrewe affêre. Die antieke steenkooltoring is 'n oorblyfsel uit vergange dae, heeltemal onnodig met 'n vloot van uitsluitlik diesellokomotiewe. (Die diesel-herbunkeringsfasiliteit moet nog langs die aanloopspoor na die draaitafel geïnstalleer word.)

Selfs al kom die diesel-herbunkeringsfasiliteit nog kort, het ek al 'n paar mooi groot brandstoftenks en 'n watersuiweringsaanleg raakgeloop.

Hierdie gebou het ek by die N Gauge Guild se "swapmeet" in Krugersdorp raakgeloop, waar Neville Ewing dit as "vuil ou stasie" beskryf het. Ek het dit effens skoongemaak en reggemaak, en dis nou nie meer 'n stasie nie, maar 'n hostel vir treinbemannings wat moet oorslaap voordat hulle weer huiswaarts kan keer. Die draaitafelspore is op die voorgrond sigbaar.

Die toring het ek eers redelik onlangs bekom, terwyl die spore op die plek waar ek dit wou plaas jare gelede al gelê is. Nadat ek die model gebou het, moes ek agterkom dat die spasie tussen die spore net te min was om treine te laat verbykom sonder om die effens wyer boonste verdieping te tref. Ek het toe die platform gelig ten einde die verlangde vryhoogte te kry. Ek moet nou nog handrelings installeer aangesien die platform onder die toring nou ongeveer tien voet bo die grondvlak is. Of 'n prototipe hiervoor bestaan, weet ek nie, maar - dis my spoorweg en hier kan ek maak soos ek lus het!
Na die ander Chessieblaaie:
Na die res van my webwerf:
Die volgende blaaie bevat dekodeerderinstalleringsgidse vir 'n paar N-skaal diesellokomotiewe:
En die volgende blaaie bevat gidse om 'n paar N-skaal diesellokomotiewe te diens of om hulle werkverrigting te verbeter:
|
|||||||
|
|||||||
Volgens die Webteller is jy
besoeker nommer aan hierdie blaaie sedert 23 Mei 2002. As jy
kommentaar wil lewer op enigiets wat jy hier sien, of dalk iets
wil voorstel, pos asseblief 'n ebriefie.
![]()
Geskep op 11 September 2003. Laas op 2 Oktober 2003 opgedateer.