Dit was 'n fees der feeste . . .
Die Ollie-fees op Oudtshoorn

Desember 2000

Opdat wij de wonderlijke dagen bij de struisvogelen niet zullen vergeten . . .

Klik hier vir enkele foto's wat deur Marthie
en Jannie Bredenkamp op die Ollies-fees geneem is.
Jannie is 'n afstammeling van die een dogter van die SA Ollies
se stamvader, Detlef Christian Olwage.

Dit was nou werklik ’n fees der feeste. Die Ollie-makietie van Desember 2000 op Oudtshoorn bly in ’n mens se geheue gegraveer soos die skurwe skraapmerke van ’n volstruistoon op ’n Karoo-rots. Boervrou Rita (Olwage) Serfontein en haar broer, die oud-skoolhoof Theo Olwage, het inderdaad geen moeite – en soos dit lyk geen koste – ontsien nie. Al die feesgangers moet eenvoudig daar weggegaan het met ’n diep dankbare gevoel dat hulle op veel meer getrakteer is as waaroor hulle ooit kon gedroom het.

            En dalk ook met ’n vreemde nostalgie oor al die goeie vriende wat hulle aan die einde moes groet.

            Nee, nie net vriende nie, bloedfamilie, want dit is waaroor die Ollie-feeste mos eintlik gaan.

            Soos daardie aangrypende ontmoeting van Babs (Olwagen) Redelinghuys toe sy besef die man voor haar (Jannie Ollewagen) is haar eie neef se seun. Dit gee ’n mens mos rêrig ook ’n warm gloed om die hart om in sulke klein oomblikke van intense blydskap te kan deel!

            Hierdie webbladsy is vir al daardie feesgangers, maar ook vir tientalle ander Ollies wat moontlik in die gees saam met ons Oudtshoorn was, maar deur omstandighede verhinder is om daar te kon wees.

            Een wat beslis daar sou wou gewees het, maar nie kon nie, is Hennie Steyn (sy ma was ’n Olwage) van Bethlehem. Hennie (ook ’n oud-skoolhoof net soos Theo) het in 2000 ’n besoek gebring aan Fritz en Monika Oldewage op die Ollie-familieplaas by Barver in Duitsland.

            Die tydjie op die grond waar van sy eie wortels ook lê, was vir Hennie ’n verrykende ervaring. Eintlik het dit hom so aangegryp dat hy op 2 Oktober daardie jaar op ’n trein tussen München en Darmstad, Duitsland, ’n hele lang gedig oor die Ollies se feesvierings geskryf het.

            Hennie skryf met ’n merkwaardige insig -- al was hy ’n ``afwesige feesganger’’ op Oudtshoorn:

OLLIES HOU REŰNIE

Die Ollies kom van oral, van die ooste tot die weste
Met motors vol kos, drank, en klere die beste
En daarby die behoefte om met mekaar te verkeer
Hoe alles gaan afloop, kan ons lank oor debatteer.

Vanjaar is hulle by Oudsthoorn, plek van die volstruise
Almal trek hier saam, weg van hulle huise
Goethe, en Babsie en ’n klomp oudstryders, maar ook nuwe bloed is daar
Ongelukkig kon Fritz en Monika hulle nie by ons skaar.

Daar kom selfs aangetroudes, en Ollies van moederskant
Hulle eet, gesels en staan kringetjie by die toonbank
Vir die familiefees kom kinders en grootmense en oues
Oujongnooiens, wewenaars, jong mense en reeds lank getroudes.

Die saamtrek in Duitsland was lekker, dié op Stellenbosch dalk beter,
Dat iets hier gaan gebeur, dit is gewis en seker,
Hulle kom hierheen om mekaar se geselskap te geniet
Die gene van Detlef, beteken vir hulle veel, het hulle gebied.

Die partytjie begin langsaam, hulle voel eers mekaar
’n Paar biere verder, nee, niemand is nog gaar!
Ken almal vir almal, die tonge nou los
Hulle het kom uitspan, kom ontspan, kuier ’n hond uit ’n bos.

Dis stamname, noemname, meeste is vriendelik, een of twee effens bot
Van boere tot amptenare, sakelui, onderwysers, vakmanne, die lot
Baie afgetredenes, vele huisvrouens, nog ander van byna elke beroep
Die Ollies kuier ryk en lekker, die stamboom kom onder die loep.

In die voorgeslag was daar ’n paar, sê een of twee
Wat minder voorbeeldig was, miskien, dalk, o wee!
Maar hulle is afwesig, hulle is nie nou hier
Ons vergeet van hulle, kry vir jou nog ’n bier!

Die einde van die saamtrek gaan kom, dit is seker,
Dat dit die verloop is, bly maar ’n bitter beker
Aan alles kom ’n end, en al het ’n wors twee ente,
Daar gaan weer ’n saamtrek wees, spaar solank jul sente.

Gee kunsmis aan jul geldboom, sodat dit kan groei
Dat die Ollies ’n saamtrek geniet, is ’n waarheid soos ’n koei
Dit was heerlik, dit was lekker, dit was nie te woes
Gaan verloor die opgetelde kilos, gaan slaap af die roes.

Sou sommige ons vooruitgaan, ons hulle nie weer sien,
Daar’s baie Ollies in die hemel, nie net ’n paar duisend-en-tien
Daar’s ’n skare van hulle en elke saamtrek sommer naby,
Stapafstand, in die Nuwe Jerusalem waar hulle sal bly.


Om terug te keer na die inhoudsblad klik hier

Die Ollies van Suidelike Afrika, webwerf van die familie Olwage, Olwagen, Oldewage, Olderwagen, Ollewage, Ollewagen in Suid-Afrika. E-pos webmeester: dugeot@iafrica.com