Die jollie Ollies se unieke familiefees in Duitsland

Die joernalis G. Olwagen vertel hoe die Duitse konneksie van die familie Oldewage/Olwage/Olwagen/Ollewagen/
Ollewage/Olderwagen van Suid-Afrika gevind is -- en van die unieke familiefees wat toe daarop gevolg het. Hy gee ook raad vir nie-Ollies om hul eie Europese verbintenisse te probeer opspoor . . .

BO: Ollies vir Afrika. Die groep Suid-Afrikaners wat die honderde nasate van Detlef Christian Ol(de)wage op die Duitse familieplaas gaan verteenwoordig het.

BO: Ollies van Duitsland. Daar is nie meer so baie familielede in die stamland oor nie. Regs voor is die Duitse gasheer en gasheer, Fritz en Monika Oldewage, met hul tweeling, Carsten en Katharina.

BO: Die Yankee-Oldewages . . . verteenwoordigers van 'n kleinerige Ollie-stam in Amerika. Van links is Barbara en haar man, Daniel, en Michael Oldewage.

'N FAMILIEFEES is nes 'n volksfees. Reg? Vol toesprake en taferele en temerige omies met lang baarde wat die geskiedenis tydsaam staan en uitryg in al sy lengtes, breedtes en dieptes.

Die kinders sit lam van verveling saam op die klipharde banke en luister, uur na  uur na uur om te verneem van hul oupagrootjies se triomfe. Het u geweet dié een was 'n vertroueling van pres. Kruger, geagte stamgenote, want hy's gereeld ontbied om Oom Paul se gunsteling-ryperd te roskam?

Het u besef, seergeliefde toehoorders, daardie ander een was veertig jaar lank getroud met 'n niggie van koningin Victoria? Maar toe los sy hom vir 'n Europese hertog -- anders het haar adellike pa haar onterf?

Ja-nee, 'n familiefees is 'n voorfamiliefees. Dit gaan om die lof van die gestorwenes. En by 'n familiefees word nie stuitig gelag nie, want dit skend mos darem die waardigheid. 'n Familiefees is plegstatig, 'n familiefees is eerbiedig, 'n familiefees is selfs 'n droefheid oor die dinge wat was.

Reg? Reg? Reg?

Verkeerd. Heeltemal verkeerd.

'n Familiefees kan ook 'n onvergeetlike vrolikheid wees; laat ek jou van dié een vertel.


ONS het in 1996 in Nedersakse, op die Noordwes-Duitse platteland, 'n familiefees belewe wat ek glo omtrent uniek moet wees, of dan wel ten minste vir Suid-Afrikaners.

En voordat jy ophou lees omdat jy nie rêrig in my familie belang stel nie, moet ek vir jou sê dat so iets dalk ook jou eie familie beskore kan wees. Kwalik moontlik, sê jy? Moenie so seker wees nie. Ietwat verderaan vertel ek hoekom ek so sê.

Eers die agtergrond: soos die ander bladsye op die Ollie-webwerf toon, was ons navorsing na my familie se verlede 'n langtermyn-soektog.

In die loop van ons lang gesnuffel kom ons toe agter ons genealogiese geskiedskrywing lê besaai van die foute en dat ons stamvader nooit van Barby in Midde-Duitsland gekom soos die ou stamboom-opstellers beweer het nie, maar al die tyd van die bitter klein plekkie Barver in die Duitse noordweste.

Hy is as matroos deur Jan Kompanjie in Nederland gekontrakteer en het in 1773 in die Kaap aangekom, maar eers in 1796 getrou. Desondanks het die gewese oujongkêrel hom nie onbetuig gelaat nie.

As Overbergse boer, in die volgende kwarteeu of wat, het hy dertien gedoopte kinders by 'n veel jonger vrou gehad. (Vorige genealogiese lyste het net ses kinders genoem).

Hoe ook al, ons vind toe verder tot ons grootste verbasing uit dat sekere lede van die Duitse familie Oldewage na meer as twee eeue steeds op die familie se landgoed naby die dorpie Barver, sowat 70 km suid van Bremen in Duitsland, woon.

Selfs hierdie ''voordorpie'' heet nog Oldewage. Dit bestaan uit drie Oldewage-plase, wat ook huurders op dele van die grond, kleinboere met ander vanne, huisves.

In Suid-Afrika het die van deur die jare versplinter in Oldewage, Olwage, Olwagen, Ollewagen, Ollewage en Olderwagen, maar volgens die geslagsregister wat ons opgestel het, lei almal se lyn van afstamming terug na die stoere Detlef Christian Ol(de)wage van Barver.

(Ja, daar staan in die genealogiese lyste daar is 'n tweede Ollie-stamvader, ene Frans Joseph. Nog 'n vergissing, want dié se geslag het uitgesterf.)

In 1994 gaan skrywer en sy broer op 'n verkenningstoer Duitsland toe, maak kennis met Fritz en Monika Oldewage van die grootste Ollie-familieplaas by Barver en kuier 'n hele paar dae lank 'n hond uit bos. Die Duitse Oldewages kom kuier in 1995 weer in Suid-Afrika by ons gesinne. Dis toe dat die gedagte van 'n familiefees in Duitsland in alle erns posvat.


UITEINDELIK, in die helfte van 1996, gebeur dit: 21 Suid-Afrikaanse feesgangers vlieg noordwaarts, ondanks die voos rand, na die familie se geboortegrond, en daar kom ook ook 'n drietal Oldewages van Amerika af, wie se stamvader honderd jaar n  ons s'n eweneens van Barver af uitgewyk het.

Uit Nederland kom 'n Ollie-dame wat oorspronklik in Suid-Afrika gewoon het. En van Duitsland self kom 'n stuk of twintig -- daar is baie min van die familie in die stamland oor.

Die fees begin op 'n Vrydag terwyl van die feesgangers steeds per trein of huurvoertuie van die lughawens af aankom en duur tot die volgende Dinsdagnag, toe almal al kapot gekuier is.

Die meeste feesgangers gaan tuis in 'n nabygeleë gastehuis, maar bring die dae meestal op die plaas deur, waar daar 'n enorme skuur plus 'n groot tent en skottels vol kos en gemoedelikheid is.

Snags gaan van die manne selfs op jagtogte en dr. Jan Olwagen van Pietersburg skiet 'n reebok. Weidmannsheil! Donkerdiep in die nag word die tradisionele heildronk daarop ingestel met 'n slukkie Jägermeister.

Eendag, op die grootste feesdag, word die gaste selfs vergas deur die blaasorkes van Barver wat tussen die eike op die plaas hul windmaker-note vir ons kom blêr.

Op een van die dae besoek ons per huurbus die Nedersaksiese opelugmuseum op die dorp Cloppenburg, waar ons kon sien hoe vanmelewe se huise gelyk en hoe ons stamvader waarskynlik grootgeword het.

Op die laaste feesdag ry ons Bremen toe, gaan eet saam langs die Bremen-hawe, besoek 'n imposante reuse-seilskip en gaan op 'n staptoer deur die stad.

In die middestad word 'n Oldewage-familiewapen aan ons uitgewys, wat ingemessel is bokant 'n venster van die ou Raadhuis naby die beeld van die Stadsmusikante. Dit was die wapen van Hinrich Oldewage, wat in 1405 burgemeester van Bremen was, word ons vertel. Daar in die middeleeue het die meeste ander mense nog nie eens vanne gehad nie.

Maar die grootste samesyn was nog altyd saans wanneer daar grappe vertel is in drie tale. En elke keer moes dit vertaal word. Dan is daar drie maal vir dieselfde grap gelag!

TERUG in Suid-Afrika bestempel van die Ollies die familiefees as een van die hoogtepunte van hul lewe, maar langer kan 'n mens stellig nie vertel nie, want dit kan miskien net alle nie-Ollies begin verveel.

Buiten as hulle hoor dat hulle dalk dieselfde belewenis kan smaak -- as iemand net bereid is om voor te vat in hul eie familiesoektog.

Want ons Afrikaners se wortels lê mos nog oral langs die Hollandse windmeulens. Of op die plankplat vlaktes van Noordwes-Duitsland. Of iewers in Frankryk, 'n mens moet hulle net soek.

Die plekkie Barver (vandag nog skaars 1300 inwoners) is so klein dat dit nie eens op die meeste landkaarte verskyn nie. Deurdat ons egter ons stamlyn soontoe kon naspoor, is ons Duitse konneksie bewys. Dat daar steeds familie op die landgoed woon, is vir ons wonderlik, maar dis straks nie so uitsonderlik nie.

Wie weet, dalk vind jy nog self mense met jou eie familienaam op jou eie stamvader se geboortegrond.


Die familieboek van die Ollies is lankal uit druk, maar baie netjiese fotostatiese afdrukke daarvan word tans deur 'n dametjie in Bloemfontein gedoen. Wie ook al daarin belang stel (of enige nie-Ollies wat hul eie Europese verbintenis soek) kan met skrywer in verbinding tree by dugeot@iafrica.com

Om terug te keer na INHOUDSOPGAWE klik op die kol:
Kyk hoe lyk die Duitse Ollie-plase -- klik op die kol:

GO Laaste hersiening: 17/06/00 15:45