Belydenis

Belydenis en geloofsuitsprake van die
Afrikaanse Baptiste Kerke

 

Die grondslag van gemeentes wat lede van die Afrikaanse Baptiste Kerke is, word gevorm deur ’n gemeenskaplike belydenis van geloof in die Here Jesus Christus, asook die handhawing, onderrig en beoefening van die volgende basiese beginsels:

1. Die Afrikaanse Baptiste Kerke gee erkenning aan historiese Baptistegeloofsbelydenisse, soos onder andere die 1689 Baptistegeloofs-belydenis en "So glo ons", terwyl ons saam met ander Protestante groepe, onder andere, die volgende vier belydenisuitsprake onderskryf:

1.1 Ons glo in die absolute gesag van die Ou en Nuwe Testament wat deur Goddelik-geïnspireerde manne, onder die direkte lig en leiding van die Heilige Gees geskrywe is. Ons aanvaar die Bybel as algehele en finale gesag vir geloof en lewe.

1.2 Ons glo in een God, die enigste en waaragtige lewende God- die Vader, Seun en Heilige Gees, een wese - drie persone.

1.3 Ons glo in die Here Jesus Christus as die enigste opgestane Verlosser en Middelaar tussen God en mens - waarlik God en waarlik mens en ons erken Hom as Hoof van die liggaam wat die Kerk is. (Kol 1:18).

1.4 Ons glo in die Heilige Gees, die onvervreembare gawe van God die Vader en die Here Jesus Christus aan sy gemeente. Dit is sy taak om die Here Jesus Christus te verheerlik, die gemeente te bou en toe te rus en die wêreld van sonde, geregtigheid en oordeel te oortuig.

2 Beginsels wat ons onderskei as tipiese Baptiste Kerke:

2.1 Ons glo dat die plaaslike gemeente waarlik en volwaardig Kerk van Christus is. Dit is volkome selfstandig en bly dit selfs as dit vrywillig met ander gemeentes in vereniging tree.

2.2 Ons glo dat die gemeente bestuur moet word onder die leiding van die Here Jesus Christus as Hoof. ’n Behoorlik gekonstitueerde vergadering van lidmate vorm die hoogste gesag in die gemeente. Elke lidmaat het die onvervreembare reg en verantwoordelikheid om deel te neem in die bestuur en beheer van die gemeente wat die aanstelling en beheer oor leiers insluit.

2.3 Ons glo dat die doop van gelowiges ’n opdrag van die Here Jesus Christus is en dat die doop ten nouste verbonde is aan die hart van die Evangelie, naamlik die dood, begrafnis en opstanding van die Here Jesus Christus.

2.4 Ons glo dat die Heilige Nagmaal as opdrag aan die Kerk van Jesus Christus 'n voortdurende herinnering aan sy dood, totdat Hy weer kom is, waardeur die Heilige Gees die ware gelowige voed en versterk, en dien as waarborg van hulle gemeenskap met die opgestane Here en mety mekaar as lede van sy liggaam. Die onveranderlikke elemente van brood en wyn verteenwoordig soos God bepaal die vlees en bloed van die Here Jesus Christus, ons Verlosser, wat vir die vergifnis van die mens se sonde geoffer is.

2.5 Ons glo dat getuienis van wedergeboorte en doop deur onderdompeling, voorvereistes vir kerklidmaatskap is.

2.6 Ons glo in die priesterskap van alle gelowiges waardeur ons verklaar dat elke Christen direkte toegang tot God deur die Here Jesus Christus het en deel het in sy werk van versoening. Hierdie deelname sluit voorbidding, aanbidding, getroue diens en getuienis van sy reddende genade, in.

2.7 Ons glo in godsdiensvryheid, sodat elke individu vry is van enige inmenging deur die staat,organisasie of groep met betrekking tot geloof. Hierdeur word die individu se reg om die Bybel in die lig van sy gewete te interpreteer, gewaarborg.

2.8 Ons glo in die afsondering tussen die kerk en die staat deurdat, in die voorsiening van God die twee in hulle respektiewelike aard en funksies verskil. Die kerk kan nie met die staat geïdentifiseer word nie en dit kan ook nie in sake van geloof en praktyk deur die staat beheer en gekontroleer word nie. Die staat is verantwoordelik vir die administrasie van die Reg, om orde in die gemeenskap te verseker en om die welvaart van die landsburgers te bevorder. Die Kerk is verantwoordelik om die Woord van God aan alle mense te verkondig.

Terug na bo